MPUMALANGA. – Sfiso Masuku (32) het gister op ‘n aanklag van kubermisdaad in die Middelburg-streekshof verskyn. Die saak is tot 8 Maart uitgestel om sy adres te bevestig en hy bly in aanhouding.
Nuusflits het gister soos volg berig:
‘n Petroljoggie (32) van Swati het gister op aanklag van kubermisdaad in die Middelburg- gespesialiseerde misdaadhof verskyn.
Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die verdagte is by die Ultra City-vulstasie op die N4 deur die Valke in hegtenis geneem. Die inhegtenisneming het gevolg nadat ondersoekers tydens ‘n interne Absa/FNB-bankkaartoudit vermoed het ‘n petroljoggie het moontlik ‘n vlugleestoestel (skimming device) gebruik wat na bewering ‘n voorlopige verlies van ongeveer R400 000 teweeggebring het.
Sekgotodi sê die Valke het verder ondersoek ingestel, waarna die eenheid saam met bankondersoekers ‘n soek-en-beslagleggingsoperasie uitgevoer het. Die verdagte was aan diens en het glo die toestel in sy besit gehad, waarna hy in hegtenis geneem is tot met sy eerste hofverskyning.
Die saak word verder deur die ernstige kommersiële misdaadeenheid ondersoek.





