Longlands, ’n klein gemeenskap net buite Kimberley, word van 6-9 Februarie 2025 die tuiste van ’n unieke geestelike geleentheid onder die tema “I Will Rise Again”.
Onder leiding van Provision Ministries pastoor Esau Montzinger, is hierdie gebeurtenis ’n mylpaal vir die gemeenskap.
Past. Montzinger het ’n verskeidenheid predikers van regoor die Noord-Kaap genooi om die “woord van God oor hierdie vier dae te verkondig”. Hy sê dit is ’n geleentheid wat beoog om nie net geloof te versterk nie, maar ook hoop te bring aan die mense van Longlands en omliggende gebiede.
Pinksterfees
Een van die hoogtepunte van die geleentheid is die Pinksterfees op Saterdagaand, met Henoline Goeieman as hoofkunstenaar. Saam met haar tree verskeie plaaslike kunstenaars op, waaronder Heinrich Bartlett, Rowayne Riedt, Shaltin Smeer, Pravin Speelman, Cathleen Raas, Desmonia Laven en New Birth.
Volgens past. Montzinger is die doel van die Pinksterfees om jongmense te inspireer en te wys dat daar plek vir hulle in die kerk is. Deur plaaslike kunstenaars ’n platform te gee, word nie net talent blootgestel nie, maar ook hoop gebou.
’n Gesamentlike gemeenskapspoging
Die fees bring gemeentes van Postmasburg, Delportshoop, Kimberley, Ritchie en Jacobsdal bymekaar, met die ondersteuning van die Dikgatlong Munisipaliteit se burgemeester en verteenwoordigers van die Premier se kantoor, PA en DSD wat op die afsluitingsdiens teenwoordig sal wees. “Hierdie samewerking is nog ’n eerste vir Longlands en wys die krag van eenheid en geloof in aksie,” sê past. Montzinger.
’n Persoonlike band met Longlands
Past. Montzinger, wat self in Longlands gebore is, beskryf sy liefde vir die gemeenskap as die dryfkrag agter hierdie geleentheid. Sy oupa en ouma, Eerwaarde Esau en Susan Montzinger, was jare gelede predikante in die dorp en die fees is ’n manier om terug te gee aan die gemeenskap wat sy wortels gevorm het.
Vir meer inligting kontak past. Montzinger by 082 544 6353.
Read: Wine, water and wonderful times at the Vaal Wine Expo 2025!





