Brekende Nuus
Afrikaans

Pistorius se paroolverhoor dalk voor einde November

Oscar Pistorius se prokureur, Conrad Dormehl, het 'n brief van die paroolraad ontvang.

Pistorius se paroolverhoor dalk voor einde November 
 fotokrediet: Wikipedia
Pistorius se paroolverhoor dalk voor einde November fotokrediet: Wikipedia

Die departement van korrektiewe dienste se paroolraad beplan om voor einde November ‘n verhoor ter oorweging van Oscar Pistorius se vrylating te hou.

Eyewitness News sê Conrad Dormehl, Pistorius se prokureur, het gesê hulle het Woensdag ‘n brief ontvang waarin die paroolraad bevestig Pistorius se gevangenelêer is ontvang en slagoffers sal ook ‘n geleentheid gegun word om voorleggings te maak. Die raad het voorts in die brief gesê dit is van voorneme om ‘n paroolvehoor ter oorweging voor die einde van November te belê.

Hierdie volg weke nadat die konstitusionele hof bevind het Pistorius kon reeds maande gelede vir parool in aanmerking kom en daarvoor oorweeg word.

Nuusflits het op 9 Oktober soos volg berig:

Oscar Pistorius het hom na die konstitusionele hof oor moontlike parool gewend. Dié hof het vandag in Pistorius se guns beslis. Volgens berekeninge moes hy al vroeër vanjaar, in Maart, toe hy reeds die helfte van sy vonnis uitgedien het, vir parool in aanmerking gekom het.

Singabakho Nxumalo, die woordvoerder van korrektiewe dienste, sê die departement het ‘n bevel van die konstitusionele hof ontvang vir die behoorlike interpretasie van die appèlhof se uitspraak van 24 November 2017.

Nxumalo sê die bevel gaan oor ‘n vonnis wat opgelê is, die effektiewe datum en die impak van die berekening van die minimum aanhoudingstydperk wat Pistorius tans steeds uitdien.

“Die departement bestudeer die bevel en sal binnekort ‘n uitspraak oor die pad vorentoe lewer. Die departement sal verseker dat die hofbevel op die korrekte wyse uitgevoer word.”

Bron: Eyewitness News, Citizen