NOORDWES. – ‘n Plaaseienaar is glo op 8 Januarie deur verdagtes in sy huis op sy plaas naby Koster oorval en beroof. Vyf verdagtes het vandag vlugtig op ‘n aanklag van huisroof in die Koster- periodieke hof verskyn en bly in aanhouding.
Brig. Sabata Mokgwabone sê volgens inligting het twee mans, gewapen met ‘n vuurwapen en ‘n panga, die huis binnegegaan, die plaaseienaar aangeval en geld geëis. Twee plaaswerkers wat buite deur ‘n verdagte aangehou is, kon daarin slaag om te ontsnap en hulp ontbied. ‘n Trouring, horlosie en selfoon is geroof, waarna die verdagtes in die plaaseienaar se Isuzu-bakkie gevlug het. Die bakkie het nie ver van die huis af nie in modder gaan vassit, waarna drie verdagtes verder is in ‘n wegkommotor, wat naby gewag het.
Met die hulp wat ontbied is, is die polisie en naburige boere gemobiliseer, waarna die wegkommotor gestop is. Die verdagtes het in verskillende rigtings gehardloop, maar al vyf is aangekeer en ‘n Suzuki-voertuig is geskut.
Lungelo Mavuso (25), Thabiso Ngwenya (27), Siboniso Magagula (30), Christopher Mothibe (48) en Punuka Van Rooyen (51) is gearresteer. Voorlopige ondersoek dui aan Mothibe en Van Rooyen is van Koster afkomstig, terwyl die ander drie verdagtes van Piet Retief in Mpumalanga is.
Die verdagtes sal weer op 16 Januarie vir regshulp in die hof verskyn.