NOORDWES en NOORD-KAAP. – Vyf roofverdagtes was Maandag in ‘n ongeluk betrokke nadat hulle glo ‘n sakeroof gepleeg het. Drie het in die ongeluk omgekom, terwyl ‘n vierde gehospitaliseer is en ‘n vyfde ontsnap het. ‘n Verdagte (36) is Woensdag tydens ‘n gesamentlike operasie in die Khuma-woongebied buite Stilfontein gearresteer.
Brig. Sabata Mokgwabone en kol. Cherelle Ehlers, provinsiale woordvoerders, sê verdagtes is in die Noord-Kaap vir drie sakerowe, twee gewapende rowe en die opblaas van ‘n OTM gesoek. Die misdade is tussen Oktober en Desember 2024 op Hartswater, Warrenton en Pampierstad gepleeg.
Maandagoggend het drie van die gesoekte verdagtes onderweg na Khuma, nadat hulle glo pas ‘n sakeroof in Ikageng, Potchefstroom, gepleeg het, op die N12 in ‘n ongeluk gesterf. Een van die oorledenes is voorheen op aanklagte van aanranding en opsetlike saakbeskadiging in Limpopo gearresteer. Nog ‘n insittende van die voertuig is ernstig beseer en is in ‘n hospitaal opgeneem, terwyl ‘n vyfde verdagte van die toneel gevlug het. Goedere wat na bewering pas geroof is, is in die verdagtes se voertuig gekry.
Die verdagte wat Woensdag gearresteer is, het glo ‘n vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is, in sy besit gehad. Hy verskyn vandag op ‘n aanklag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen in die Stilfontein-landdroshof.