MPUMALANGA. – Hermanus de Laray (52), ‘n plaaseienaar, en William Underhy (40), ‘n plaasbestuurder, het vanoggend vir hulle borgaansoek in sake van beweerde moord en regsverydeling in die Evander-landdroshof verskyn.
Kol. Donald Mdhluli sê borg aan beide die beskuldigdes is geweier en die saak is vir verdere ondersoek tot 20 Maart uitgestel.
Mdhluli sê lt.genl. Semkaleng Daphney Manamela het die weiering van die beskuldigdes se borg verwelkom.
Sthembiso Mbuyiseni Mnikathi (30) en Buhlebekhaya Ximba (30) was deel van ‘n groep van vyf mans wat op ‘n plaas gaan jag het en is nooit weer gesien nie.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Hermanus de Laray (52), ‘n plaaseienaar, en William Underhay (40), ‘n plaasbestuurder, sal vandag in die Evander-landdroshof hoor of hulle borg kry, nadat twee mans, beide 30 jaar oud, glo op 19 Mei 2023 op ‘n plaas vermis geraak het. Beide is op 18 Januarie in hegtenis geneem.
Kol. Donald Mdhluli sê die twee beskuldigdes het op 1 en 7 Februarie vir formele borgaansoeke in die hof verskyn en die saak is beide keer uitgestel terwyl hulle in aanhouding gebly het. Die saak kom vandag vir die uitslag van hulle borg voor.
In die saak teen die beskuldigdes het twee persone glo op ‘n plaas naby Leslie vermis geraak, waarna die plaaseienaar en bestuurder in hegtenis geneem is.
Na bewering het vyf mans die betrokke aand op die plaas gaan jag en is op die plaas opgemerk. Volgens Mdhluli is skote afgevuur en drie van die mans kon daarin slaag om te ontsnap, terwyl nog twee nie weer gesien is nie.
‘n Saak van ‘n vermiste persoon is vir ondersoek geopen en leidrade is opgevolg. Mdhluli sê die ondersoek het aan die lig gebring die twee beweerde verdagtes het moontlik die twee vermiste persone doodgeskiet en sê voorts die polisie is van mening daar is van hulle liggame ver van die plaas ontslae geraak.
Volgens die polisie is deurslaggewende bewyse op die misdaadtoneel ingesamel wat op ‘n moontlike tragedie dui.
Die twee beskuldigdes word deur klagtes van moord en regsverydeling in die gesig gestaar. Mdhluli sê die moontlikheid bestaan dat meer klagtes bygevoeg kan word soos die ondersoek vorder.
“We are definitely opposing bail and we hope that justice will be served for the victims,” sê lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, die provinsiale polisiekommissaris in die provinsie.





