Riaan Benadé, ‘n kunstenaar wat reeds sy merk in die plaaslike asook internasionale musiekbedryf gemaak het, spog nou met nog ‘n eerste op sy kerfstok. Riaan is die eerste Afrikaanse kunstenaar van wie twee liedjies 10 miljoen keer gestroom is.
Die Riaan Benadé-liedjies van keuse is Spontaan en Vat ‘n Bietjie. Pa Franna Benadé het met sy seun gespog: “Hey man da man!! Jinne Riaan Benade my seun, na soveel streams VAT n mens seker SPONTAAN ‘n bietjie nè! Wel doen boesman!”
Coleske Artist Management het ook met hulle kunstenaar, wat boonop Maandag verjaar het, gespog: “Hierdie is ’n ongelooflike mylpaal! Riaan Benade is die heel eerste Afrikaanse kunstenaar wat dit reg kon kry om 10 miljoen strome op sy liedjie #Spontaan en #VatnBietjie te kry op Spotify. Het jy al na een van die twee liedjies geluister?”
Riaan het Vrydag die volgende van die besonderse prestasie gesê: “1ste Afrikaanse kunstenaar wat dit gemaak het tot 10 miljoen streams op ‘n liedjie op @spotify? Ek kan nie beskryf hoe groot ‘n eer dit is om erkenning vir hierdie te kry nie, en dit op 2 liedjies! Ek’s by verre nie die beste kunstenaar in Suid-Afrika se geskiedenis nie, want ons het al reuse gesien in ons bedryf, maar om die eerste te wees wat hierdie mylpaal bereik, is regtig ongelooflik lekker vir my en ‘n voorreg! Baie dankie dat julle my musiek so ondersteun, ek hoop dit bevat van julle beste herinneringe as julle hierdie plattelandse kêrel se musiek hoor. In my wildste drome het ek nie gedink ek sal my kreatiewe werk kan deel met soveel mense nie. Ek gaan aanhou om in my moedertaal musiek te maak!
Baie liefde, Riaan
Lees ook hier: Riaan het ook voorheen saam met Ian Munsick, ‘n internasionale countrysanger en skrywer van Nashville, gewerk, wat hom die eerste SA-sanger gemaak het wat ‘n internasionale Spotify-vrystelling gehad het.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





