
Foto: SAPD
NOORD-KAAP. – Provinsiale komponente van die polisie in die Noord-Kaap het Woensdag Mandeladag geëer en pasiënte met brood, sop en inkopiesakke bederf.
Lt.kol. Sergio Kock sê die polisie wou teruggee aan die gemeenskap. Genl.maj. Jacques Raymond, brig. Mashay Gamieldien en nog lede het na die hospitaalpersoneel en pasiënte uitgereik. Saam met Mamoroesi Ngamole en suster Kedihieng Cwaile is 67 minute aan 150 pasiënte spandeer. Pasiënte, volwassenes en kinders, is met ‘n warm ete bedien.
Kock sê gedurende dieselfde tyd is die gemeenskap gehelp om verklarings af te lê, sertifiserings is gedoen en klagtes is opgevolg. Wat ‘n normale werk by die polisiestasie sou wees, is deur die lede met ‘n mobiele eenheid na die gemeenskap gebring.
“Soortgelyke uitreikprogramme sal regoor die provinsie ter viering van Mandeladag gehou word, met die tema vir 2024: “It is still in your hands to combat poverty and inequity.””
Met lesse van oorlede Nelson Mandela in gedagte, sê Kock om nooit hoop te laat vaar of moed op te gee nie. Geweld is nie ‘n antwoord nie. Leer hoe om te vergewe en saam te kom deur ervarings te deel en leer om ‘n streep onder jou verlede te trek. Die mens se goedheid is ‘n vlam wat weggesteek kan word, maar nooit geblus kan word nie.





