MPUMALANGA. – ’n Geheime dwelmlaboratorium van miljoene rande is in Volksrust afgebreek. Die skoonmaak het Woensdag begin en die proses sal na verwagting teen Vrydag afgehandel wees. Die gebied is as ’n gesondheidsgevaar vir die publiek en die omgewing verklaar, met ’n groot risiko van brande weens moontlike chemiese reaksies.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die laboratorium is op 19 September ontdek, nadat die polisie inligting oor ’n onaangename reuk in die omgewing ontvang het. Ses verdagtes, een Suid-Afrikaanse burger en vyf Mexikaanse burgers, is tydens die operasie in hegtenis geneem.
Die terrein is sedert die dag van die operasie onder polisiebewaking geplaas en die saak is vir verdere hantering na die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaadondersoeke in Secunda verwys. Borgtog is teëgestaan, wat daartoe gelei het dat die vyf Mexikaanse verdagtes hul borgtogaansoek laat vaar het. Die Suid-Afrikaanse burger, wat glo die plaas se opsigter is, is op borg van R50 000 vrygelaat.
Alle chemikalieë en toerusting wat tydens die onwettige aktiwiteite gebruik is, sal verwyder en vernietig word. Dit sal lei tot die volledige beëindiging van die gevaarlike operasie.
“Ons ondersoek duur voort. Ons sal geen steen onaangeroer laat totdat ons die meesterbreins agter hierdie onwettige operasie gevind het nie,” het die provinsiale hoof van die Valke in Mpumalanga, genl.maj. Nico Gerber, gesê.





