Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Maandag sy herindiensneming van oud-lede wat die polisie op goeie voet verlaat het, geloods om kapasiteit vir speurdoeleindes in die stryd teen misdaad te versterk en om oud-lede se ervaring te benut.
Brig. Athlenda Mathe sê: “Hierdie poging is daarop gemik om meer stewels op die grond te sien om te help met die ondersoek van sake.”
Oud-lede wat belangstel, moet aan spesifieke kriteria voldoen. Volgens Mathe sal die aansoekproses oop wees vir kandidate wat voorheen in die rang van konstabel, sersant of adjudant-offisier onder die Polisiewet 68 van 1995 aangestel is. Belangstellendes moet ten tyde van die sluitingsdatum nie ouer as 55 jaar wees nie.
Die salarisskale vir die verskillende range is: R226 188 per jaar vir konstabels, R283 797 vir sersante en R351 570 vir adjudant-offisiere.
Aansoekers kan die nodige aansoekvorms op die SAPD se webtuiste onder “Careers” kry. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 21 Oktober 2024.
Indien jy oor die verdere moets en moenies vir herindiensneming wil lees, doen dit hier.





