Polisie maan ouers om kinders veilig te hou tydens skoolvakansie

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die polisie in Tshwane wens leerlinge, onderwysers en ouers ’n veilige en aangename skoolvakansie toe. Maar waaksaamheid om kinders veilig te hou, moet aan die dag gelê word, veral wanneer kinders tuis is en ouers werk.

Kapt. Johan van Dyk, polisie-kommunikasiekoördineerder in die Tshwane-distrik, sê ouers en voogde moet gedurende die vakansie ekstra waaksaam wees wanneer baie kinders tuis sal wees. Hy het gewaarsku dat misdadigers dikwels kwesbare kinders teiken en situasies uitbuit waar kinders sonder toesig gelaat word. Die polisie moedig ouers en voogde aan om veiligheidsmaatreëls met hul kinders te bespreek.

Die polisie vra ouers, voogde en lede van gemeenskappe om saam te werk om ’n veilige omgewing vir kinders gedurende die skoolvakansie te skep. Volgens Van Dyk kan baie voorvalle voorkom word deur waaksaamheid, verantwoordelike toesig en die nakoming van basiese veiligheidsmaatreëls.

Veiligheidswenke vir kinders by die huis
• Hou alle deure en veiligheidshekke te alle tye gesluit.
• Moenie vir vreemdelinge oopmaak nie, ongeag die rede wat hulle gee.
• Moet nooit aan vreemdelinge vertel dat jou ouers of voogde nie tuis is nie.
• Hou noodkontaknommers byderhand.
• Moenie persoonlike inligting op sosiale media of met onbekende persone deel nie.
• Vermy dit om sonder volwasse toesig buite te speel.
• Bly weg van elektriese toestelle, oop vure en gevaarlike stowwe.
• Meld enige verdagte persoon of aktiwiteit onmiddellik aan ’n vertroude buurman, ouer, voog of die polisie.

Veiligheidswenke vir besoeke aan winkelsentrums
• Kinders moet altyd naby hul ouers of voogde bly.
• Ouers moet vooraf ’n ontmoetingspunt bepaal vir ingeval gesinslede van mekaar geskei raak.
• Kinders moet hul ouers of voogde se kontaknommers ken.
• Moenie duur items soos selfone, juweliersware en elektroniese toestelle onnodig vertoon nie.
• Meld enige verdagte gedrag by winkelsentrumsekuriteit of die polisie aan.
• Ouers moet gereeld seker maak waar hul kinders hulle bevind terwyl hulle inkopies doen.

Pasop vir selfoonswendelary
• Moet nooit jou selfoon aan ’n vreemdeling gee nie, ongeag die verduideliking wat gegee word.
• Indien iemand werklik hulp benodig, verwys hulle na winkelsentrumsekuriteit, ’n polisielid of ’n ander verantwoordelike gesagsfiguur.
• Handhaaf ’n veilige afstand van vreemdelinge wat toegang tot jou selfoon of persoonlike besittings vra.
• Meld verdagte persone onmiddellik by sekuriteitspersoneel of die polisie aan.

Enigiemand wat misdaad waarneem of polisiehulp benodig, kan die SAPD se Crime Stop-nommer by 08600 10111 skakel of inligting deur die MySAPS-selfoontoepassing aanmeld.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief