GAUTENG. – Die polisie het altesaam 226 vuurwapens van ’n geregistreerde veiligheidsmaatskappy, wat glo die vuurwapenwet oortree het, in ‘n klopjag as deel van Operasie Buyisa, in beslag geneem.
Lt.kol. Amanda van Wyk, polisiewoordvoerder, sê 204 maatskappy-vuurwapens en twee onwettige vuurwapens is op ‘n perseel by ‘n maatskappy in Krugersdorp gekry. Die persoon wat vir die vuurwapens verantwoordelik is, is in hegtenis geneem. Verdere beslagleggings sluit ‘n geweer in Lephalale, drie vuurwapens in Booysens, elf in Makhado, vyf in Dirkiesdorp en een in Randburg in. Laasgenoemde word aan ’n poging tot moord op polisiebeamptes in 2016 gekoppel. In totaal is 226 vuurwapens by die polisie in bewaring, terwyl 377, wat in die naam van die veiligheidsmaatskappy geregistreer is, steeds nie opgespoor is nie. ’n Artikel 106-kennisgewing het die maatskappy verplig om hierdie wapens voor te lê.
Van Wyk sê voorts verskeie van die vuurwapens is reeds met kontant-in-transito-rooftogte, gewapendesakerooftogte en poging tot moord verbind. Alle wapens sal aan forensiese IBIS-toetse onderwerp word. Die polisie ondersoek ook bewerings dat die maatskappy moontlik vuurwapens onwettig aan derde partye verhuur het.
Operasie Buyisa, wat in Julie 2025 van stapel gestuur is, fokus daarop om onwettige vuurwapens uit sirkulasie te verwyder en nakoming van die Wet op die Beheer van Vuurwapens af te dwing.





