NOORDWES. – Liani van der Berg (50), ‘n boervrou, is Dinsdagmiddag omstreeks 16:30 op ’n plaas naby Coligny aangeval, waarna die polisie ‘n ondersoek van stapel gestuur het.
Kapt. Majang Skalkie, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die vrou was buite haar woning om ‘n perd by die stalle te voer toe die voorval plaasgevind het. ’n Onbekende man, wat na bewering ’n mus gedra het, het haar van agter met ’n staalvoorwerp aangeval. Sy het daarin geslaag om haarself te verdedig, waarna die aanvaller te voet gevlug het. Sy het beserings opgedoen en is vir mediese behandeling na ’n nabygeleë hospitaal geneem, maar is later dieselfde dag ontslaan. ’n Saak van aanranding met die opset om ernstig te beseer word ondersoek. Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Genl.maj. Ryno Naidoo, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die aanval veroordeel en gesê misdaad teen landbougemeenskappe bly ’n prioriteit vir die polisie.
Skalkie sê enigiemand met relevante inligting word gevra om speursers. Godiamang Dire van die Coligny-polisiekantoor by 082 416 3593 te bel.