GAUTENG. – Die polisie in Gauteng ondersoek ‘n insident waartydens drie klaskamers by Hoërskool Lancea Vale in Eldorado Park Dinsdag gebrand het.
Steve Mabona, woordvoerder vir die onderwysdepartement in die provinsie, sê Matome Chiloane, die LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, is bekommerd oor die insident nadat die drie klasse in die gr. 8- en gr. 9-blok erge skade opgedoen het.
“Die brand het vinnig versprei en drie klaskamers heeltemal vernietig. Die strukturele veiligheid van die gebou is nou ‘n bekommernis. Brandbestryders sal ‘n verslag oor die omvang van die skade verskaf, sodat ‘n besluit geneem kan word of dit veilig sal wees om voort te gaan met onderrig en leer by die betrokke blok klaskamers.”
Mabona sê die voorlopige ondersoek dui aan die brand het op die eerste vloer begin.
“Dit is inderdaad kommerwekkend dat daar verlede week Woensdag ‘n steekvoorval van ‘n leerder deur ‘n ander leerder by dieselfde skool was. Ons sal nie geweld of bendebedrywighede wat in ons skole en omgewing voortduur, duld nie. In dieselfde asem hou ons die situasie noukeurig dop en ons is seker dat leer en onderrig dienooreenkomstig by die skool sal hervat,” het LUR Chiloane gesê.