OOS-KAAP. – Die polisie in Mthatha het ’n soektog van stapel gestuur nadat drie mans Woensdagoggend omstreeks 04:00 in Gatestraat, Slovo Park, doodgeskiet is.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die polisie is vanweë geweerskote na die toneel ontbied. Met aankoms is die mans, tussen 20 en 23 jaar oud, dood aangetref.
Die eerste slagoffer het twee skietwonde aan die kop opgedoen, terwyl die tweede een skietwond aan die kop en drie aan die liggaam gehad het. Die derde het ’n skietwond agter in die kop gehad. Een van die oorledenes is ’n bekende in die gemeenskap. Die motief vir die aanval is nog onbekend.
Alle relevante eenhede, insluitend forensiese kundiges, was op die toneel. ’n Ondersoek is aan die gang en die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





