LIMPOPO. – Die Mphephu-polisie, buite Thohoyandou, het ’n ondersoek geloods ná ’n voorval van grafskending Saterdag by die Mavhunga-dorp se begraafplaas.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê volgens die polisie het ’n familielid van ‘n ontslapene ’n oproep van ’n lid van die gemeenskap ontvang wat haar gewaarsku het oor ’n onbekende groep mense wat besig was om grafte oop te grawe. Die familielid het haar onmiddellik na die toneel gehaas en met aankoms by die begraafplaas opgemerk dat die graf van haar familielid inderdaad opgegrawe is, met stukke van die kis wat buite gelê het. Die verdagte persone het egter reeds van die toneel gevlug.
Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale polisiekommissaris, het haar skok uitgespreek en speurders opgrag gegee om alle beskikbare hulpbronne aan te wend om die verdagtes op te spoor.
’n Saak van grafskending is by die Mphephu-polisiekantoor geregistreer. Enigiemand met relevante inligting word gevra om sers. Lirovha Fortune by 072 943 5260 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





