NOORDWES. – Die Brits-polisie onersoek ‘n saak van huisroof nadat Peet (63) en Olga Ehlers (61) op 29 Junie omstreeks 01:15 op ‘n plaas in die Brits-omgewing aangeval is.
Lt.kol. Amanda Funani sê Olga Ehlers het geslaap toe sy ‘n lig gesien en gedink het dit was haar man. Drie vreemde mans, met ‘n hamer en ‘n pistool gewapen, was in haar kamer. Ehlers se hande is vasgemaak terwyl die verdagtes geld geëis het. Haar slaapkamer is geplunder.
Funani sê Peet Ehlers is ook vasgebind. Die verdagtes het met juwele, ‘n selfoon en ander huishoudelike items van die misdaadtoneel gevlug.
Nog geen inhegtenisnemings is gemaak nie.
Olga Ehlers het aan Brits Pos gesê sy het met haar rug na die deur gelê toe sy van die lig wakker skrik. Sy het ‘n kniegvervangingsoperasie gehad en sy en haar man het in aparte kamers geslaap. Die verdagtes het haar gesig met duct tape toegedraai, haar bly aanrand en met ‘n strykyster gedreig. Peet Ehlers was ernstig beseer omdat hy glo geskop is. Sy misvormde jighande is beseer en twee van sy ribbes is gebreek.
Die egpaar het mekaar help loswikkel en het hulp ontbied.