OOS-KAAP. – Speurders van die Kwanobuhle-polisiekantoor het ’n dubbele moordondersoek van stapel gestuur, nádat twee verbrande liggame Woensdagoggend in Khayelitsha, in Kwanobuhle aangetref is.
Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê die polisie is omstreeks 08:35 van die liggame in bosse naby 4de Laan in kennis gestel. Op die toneel het beamptes die verbrande oorskot van twee onbekende vroulike persone aangetref. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die slagoffers tussen 17 en 19 jaar oud was. Hul identiteite is nog nie vasgestel nie.
Die motief vir die moorde is onbekend en vorm deel van ’n aktiewe ondersoek wat deur die Kwanobuhle-speurders, onder leiding van die eenheid vir ernstige geweldsmisdade uitgevoer word.
Die polisie doen ’n dringende beroep op die gemeenskap om met enige inligting wat met die ondersoek kan help vorendag te kom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]




