GAUTENG. – Die polisie het berigte ontken dat kapt. Lawrence Makgotloe deur die organisasie vrygespreek is. Hy was bemoeid met die moordondersoek van Armand Swart en staan op aanklagte van regsverydeling, hulpverlening ná die moord, asook die onwettige besit van ammunisie tereg. Die ondersoek hou voorts met 30 geweldsmisdaadsake verband, wat ook die sake van onder meer DJ Somebody en sy twee lyfwagte, asook sake van Don Tindleni, DJ Vintos Joe Sibanyoni en DJ Vetty insluit.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê ’n versnelde interne dissiplinêre proses teen Makgotloe is afgehandel. Hy is skuldig bevind aan twee van die vier aanklagte teen hom en is ná die dissiplinêre verhoor toepaslik gestraf. Wat die strafsaak betref, is Makgotloe op borgtog van R15 000 vrygelaat. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel en hy sal na verwagting op 20 Augustus weer in die Pretoriase landdroshof verskyn.
Die polisie het die beweringe as vals en misleidend beskryf en gesê dit is nodig om die verkeerde inligting reg te stel.





