Brekende Nuus
Afrikaans

Polisie open geregtelike doodsondersoek na ses Lohatla-soldate sterf

Ses soldate het Vrydagmiddag tydens 'n wegholveldbrand gesterf, waarna die polisie 'n geregtelike doodsondersoek geopen het.

Lohatla
Foto's: Lohatla Facebook-blad

NOORD-KAAP. – Die Kathu-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ses soldate verbonde aan die weermag se gevegsopleidingsentrum in Lohatla Vrydag omstreeks 13:45 tydens ‘n wegholveldbrand gesterf het. Nog drie soldate het tweedegraadse brandwonde en ander geringe beserings opgedoen.

Kol. Cherelle Ehlers sê die veldbrande wat teen 70 km/h deur die gebied gewoed het, het deur Kathu gevee voordat dit die weermagbasis bereik het. Die brande het aan die westekant van die basis van ‘n myngebied af na die basis versprei.

Vier mans en ‘n vrou het hul lewens op die toneel verloor, terwyl nog ‘n vrou in die hospitaal dood is. Die soldate was tydens voorbereiding van die weermag se Vukuhlome-oefening op die terrein. S.sers. Abraham Desember Morajane, s.sers. Sipho Berrington Cele, kpl. Sithembiso Wiseman Ndwalane, kpl. Noxolo Faith Ngobane, onderkorporaal Prince Michael Mthethwa en o.kpl. Londiwe Purity Zulu het hul lewens verloor.

Voertuie, tente en toerusting is tydens die brand verwoes.

Ehlers het gesê die SANW loods ook sy eie ondersoek.

Lt.genl. Koliswa Otola die provinsiale polisiekommissaris, het medelye met die afgestorwe soldate se geliefdes en kollegas uitgespreek.

Bronne: SAPD, SAMW en Lohatla