NOORD-KAAP. – Die polisie het wenke vir waterveiligheid uitgereik om verdrinkings in die feesseisoen te voorkom.
Lt.kol. Sergio Kock sê die onlangse voorvalle van verdrinkings in die provinsie bekommer die polisie. Die polisie vra die publiek om aan wenke gehoor te gee.
Versigtigheid moet aan die dag gelê word wanneer daar op rivierbanke, rotse en van bote af vis gevang word en daar moet liefs nie in die water ingegaan word om vis uit te haal nie. Kanale en rioolaanlegte het ‘n gevaarlike aantrekkingskrag vir kinders om in te speel, daarom moet ouers altyd weet waar hulle kinders is.
Bly weg van swembaddens se dreineringsisteme, watergate, riviere en damme en moenie in die water spring om iemand anders te red nie.
Moet nooit swem wanneer jy alkohol, medikasie en dwelms gebruik het nie.
Alle verdrinkings moet by die polisie aangemeld word, aangesien riviere en damme tans baie gevaarlik is. Maak van die polisie se noodnommer, 08600 10111 gebruik, of rapporteer met die presiese ligging aan die naaste polisiestasie sodat hulp so vinnig as moontlik gestuur kan word.





