OOS-KAAP. – ’n Man (33) is Vrydag omstreeks 19:00 in die Mbutho-gebied by Tsolo doodgeskiet toe ‘n verdagte glo met ‘n mes op die polisie afgestorm het. Die verdagte het glo ‘n vrou (24) van Libode op sosiale media gekontak om hom te ontmoet, waarna sy onder meer verkrag is. Sedert Oujaarsdag is drie vermiste vroue dood gevind en word die verdagte se vermoedelike betrokkenheid by hulle ondersoek.
Luidens ‘n verklaring van kapt. Welile Matyolo het die verdagte glo die slagoffer op sosiale media vir ‘n romantiese verhouding genader, waarna hulle Donderdag in Mthatha ontmoet het, voordat hulle per taxi na Tsolo is. Te voet onderweg na Mbutho het die verdagte glo die slagoffer met ‘n mes gedreig, aangerand en verkrag. In Mbutho is sy glo weer verkrag, waarna sy daarin kon slaag om haar familie te bel. Met die polisie se aankoms het die verdagte glo met ’n mes op die polisie afgestorm. Hy is geskiet en is aan sy beserings dood.
Voorlopige bevindings dui daarop dat drie vroue tussen 25 en 29 jaar, wat tussen 24 Desember 2025 en 15 Januarie 2026 as vermis by Tsolo-polisiestasie aangemeld is, dood in oop velde gevind is. Polisie ondersoek moontlike verbintenisse tussen dié sterftes en die verdagte deur sy selfoonrekords na te gaan.
’n Geregtelike doodsondersoek is geregistreer met aanklagte van verkragting, abduksie, verset teen arrestasie en die aanval van polisielede. Die voorval word deur Opod ondersoek.
Die polisie waarsku mense om versigtig te wees op sosiale media – mense word dikwels mislei en word dan slagoffers van bedrog.





