LIMPOPO. – ‘n Pa van Jimmy Jones-dorp word deur die Malumulele-polisie gesoek nadat sy babaseun Dinsdagoggend omstreeks 07:40 met ernstige kop-en-gesigbeserings op die grond aangetref is. Nooddienste is ontbied en die baba is op die toneel dood verklaar.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, het die babaseun se ma ‘n saak van huishoudelike geweld by die polisiestasie aangemeld nadat haar kêrel, wat ook die kind se pa is, haar glo aangerand het. Sy het aan die polisie vertel dat die man ook al herhaaldelik die baba aangerand het. Uit vrees vir haar lewe het sy gevlug en die kind by hom agtergelaat. Polisiebeamptes het haar onmiddellik na die huis vergesel, waar hulle die die baba se liggaam aangetref en nooddienste ontbied het.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die baba aangerand is voordat hy aan sy wonde beswyk het. Die verdagte het reeds gevlug teen die tyd dat die polisie opgedaag het.
’n Saak van moord is geopen. Die polisie het ’n soektog na die pa van die baba geloods, wat daarvan verdink word dat hy die babaseun vermoor het.





