OOS-KAAP. – Speurders in die Seven Fountains-omgewing vra die publiek se hulp om ’n persoon van belang in verband met ‘n gewapende huisroof op 24 September 2025 by, Woodbury Lodge Game Reserve, ‘n luukse wildreservaat op te spoor.
Brig. Nobuntu Gantana sê die voorval het omstreeks 19:50 plaasgevind toe ’n vroulike inwoner uit die stort gekom het en haar hond hoor blaf het. Toe sy die voordeur oopmaak om die hond uit te laat, is sy deur ses onbekende mans gekonfronteer. Volgens die polisie was vyf van die verdagtes se gesigte vermom, terwyl een se gesig oop was.
Die mans het haar glo na ’n kamer geneem, vasgebind en geëis om te weet waar waardevolle items gebêre word. Hulle het hulle daarna met vier skootrekenaars, twee selfone en juweliersware uit die voete gemaak. Die vrou het haarself later bevry en hulp by bure gaan soek.
Speurders het ’n gesigsamestelling van die verdagte wie se gesig nie bedek was nie gemaak en vra dat enigeen met inligting sers. Molefe by 061 144 3683 bel.





