GAUTENG en MPUMALANGA. – Sers. Simon Masenye (45) en AO Vuyisile Sintwa (51) is Vrydag doodgeskiet, glo deur Jabulani Moyo. Sers. Lawrence Mtshweni (47), verbonde aan Shoemansdal-polisiekantoor se misdaadvoorkomingseenheid in Mpumalanga, is ook Saterdag doodgeskiet toe hy op ‘n klagte van ‘n sake-inbraak reageer het. ‘n Kontantbeloning van R150 000 is vir inligting oor Moyo en ‘n verdere R150 000 vir inligting oor 10 verdagtes wat glo vir Mtshweni se dood verantwoordelik is, uitgeloof.
Die twee oorledenes van die Johannesburg Trio-taakspan was aan die Florida-polisiekantoor verbonde en het onder meer huis- en besigheidsrowe, asook kapings, ondersoek. Sintwa het gedurende 2002 by die polisie aangesluit en het 23 jaar diens gehad, terwyl Masenye 17 jaar diens gehad het. Mtshweni was aan Mpumalanga se Shoemansdal-polisiekantoor se misdaadvoorkomingseenheid naby Komatipoort verbonde en het saam met kollegas ‘n klagte van ‘n sake-inbraak ondersoek toe hy doodgeskiet is. Hy het 18 jaar diens gehad.
Volgens genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, is die sterftes ’n direkte aanval op die gesag van die reg en die staat. “Ons kan nie stilbly nie en dit kan nie besigheid soos gewoonlik wees wanneer misdadigers duidelik oorlog verklaar het teen die gesag van die staat nie.”
Genl. Masemola het Masenye en Sintwa se families besoek. “Die ondersoek na hoe hierdie speurders deur Jabulani Moyo doodgeskiet is, duur voort. Ons volg alle leidrade op en het ’n multidissiplinêre span saamgestel om Moyo op te spoor.” Genl. Masemola en ander polisiebestuurslede het vandag Mtshweni se familie besoek.
Masemola het bevestig dat ses polisielede sedert 1 April vanjaar reeds in kriminele aanvalle en lokvalle gesterf het. In die vorige finansiële jaar is 27 beamptes in die uitvoering van hul plig dood.
Masemola het polisielede gevra om die polisie se veiligheidsstrategie toe te pas. “Wees beslissend in die verdediging van julle eie lewens en dié van wetsgehoorsame burgers. Maak seker julle vuurwapens is in ’n goeie werkende toestand en dat julle oor al die nodige toerusting beskik,” het hy gesê.





