OOS-KAAP. – Die Vulindlela-polisiekantoor het ’n soektog van stapel gestuur om sowat nege gewapende verdagtes op te spoor, nadat die Shell-vulstasie in Fort Jackson Woensdagoggend vroeg gewelddadig beroof en opgeblaas is.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring drie gewapende mans het omstreeks 01:30 uit ’n donker gebied te voorskyn gekom, terwyl ’n kliënt besig was om brandstof in te gooi. Hulle het die kliënt, die petroljoggie en nog ‘n man in ’n geparkeerde voertuig aangeval. Skote is op die voertuig geskiet, maar die insittende is nie beseer nie. Die kliënt is van sy selfoon beroof.
Die slagoffers is saam met winkelpersoneel die winkel ingedwing en beveel om op die vloer te lê. Terwyl hulle aangehou is, het die verdagtes ’n valkluis en ’n kitsbank met plofstof opgeblaas. ’n Onbekende bedrag kontant is gesteel voordat die bende in hul voertuig gevlug het.
Volgens die polisie is ’n dossier vir sakeroof, oortreding van die wet op plofstof, poging tot moord en gewapende roof geopen.
Nog geen arrestasies is gemaak nie. Enigiemand met relevante inligting word gevra om na vore te kom.