OOS-KAAP. – ‘n Polisiebeampte van die OR Tambo-veediefstalvoorkomingstaakspan het Donderdagaand omstreeks 21:00 in Qumbu ‘n aanval deur drie mans teengestaan. Die drie mans, tussen 25 en 35 jaar, is doodgeskiet.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die betrokke beampte en die taakspan was besig om vier gesteelde beeste wat deur die regmatige eienaars geïdentifiseer is, op ‘n vragmotor te laai toe die voorval gebeur het. Een van die beeste het losgekom en na ‘n nabygeleë eiendom gehardloop. Terwyl die beampte ‘n man op die erf na die bees gevra het, is die man in die rondawel in en is daar op die beampte geskiet. Die polisiebeampte het teruggeskiet en die drie mans in die rondawel noodlottig gewond.
Drie ongeregistreerde 9 mm-pistole met uitgewiste reeksnommers is in die rondawel gevind. Nege bokke, wat vermoedelik ook gesteel is, is in ’n skuur op die erf aangetref. Die polisiebeamptes is nie beseer nie.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) en ander rolspelers is na die toneel ontbied. Geregtelike doodsondersoekdossiere is geopen. Aanklagte teen die verdagtes op die dossiere wissel van poging tot moord, aanval op die polisie, besit van onwettige vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde vee.
Matyolo sê die polisie se ondersoek duur voort.





