VRYSTAAT. – Die Heidedal-polisiestasie vra hulp om ‘n kind genaamd “Pulane” met haar ouers te herenig.
Volgens sers. Mahlomola Kareli het ‘n bekommerde gemeenskapslid die meisie, vermoedelik 4 of 5 jaar oud, Woensdagmiddag ongeveer 17:30 na die polisiestasie toe geneem.
“Pulane” is gevind waar sy huilend in Dr. Belcherstraat tussen Heidedal en Mangaung stap. Die polisie het toe reeds met die meisie rondgery, maar sy het nie die pad huis toe herken nie. Nog geen ouer of voog het na ‘n vermiste meisie by die polisiestasie navraag gedoen nie.
Enigiemand met inligting om die meisie se ouers op te spoor, kan kol. Itumeleng Pule, die stasiebevelvoerder van Heidedal, by 071 605 5715 bel. Die meisie word tans by die polisiestasie se krississentrum gehuisves.





