OOS-KAAP. – Polisie in Oos-Londen vra slagoffers van ‘n aanlyn verneukspul waarmee diere in ‘n belegging genaamd “Ant-Ranch” aangekoop kon word, om met hulle in verbinding te tree.
Kol. Priscilla Naidu sê die polisie het suksesvol daarin geslaag om ‘n bewaringsbevel op een van ses beweerde bankrekenings te bekom wat gebruik was om niksvermoedende beleggers mee te bedrieg.
Slagoffers het glo aanlyn geregistreer om boere te wees en het kontant in diere soos ganse, slange, donkies ens. belê. “Ant-Ranch” is volgens Naidu slegs hoe die beweerde beleggings genoem was en niemand het diere ontvang nie. ‘n Boer sou “daaglikse dividende” ontvang volgens die tipe en grootte van die diere wat hulle gekoop het.
Naidu sê daar was nooit enige direkte kontak tussen koper en verkoper nie, alle kommunikasie het per WhatsApp plaasgevind. Deposito’s is in ses verskillende bankrekenings met verskillende verwysings inbetaal. Aansienlike bedrae geld is belê omdat opbrengste in die rekeninge van kopers reflekteer het en sommige het ter goeder trou die geld in die rekeninge gelaat. Ander het meer belê.
Op 10 Oktober was die “Ant-Ranch” geblokkeer en geen belegger kon toegang tot hulle rekeninge kry nie. Die WhatsApp-nommers het ook nie meer bestaan nie. Al die geld wat beleggers “belê” het was verlore. Die slagoffers, vyf van Oos-Londen en twee van Gqeberha, het sewe aanklagte by die polisie gemaak en die polisie dink daar kan meer slagoffers wees.
Die batebeslagleggingseenheid het die ondersoekbeampte bygestaan om ‘n bewaringsbevel op een van die bankrekenings te bekom.
Slagoffers word gevra om voor 21 Februarie 2024 na vore te kom sodat hulle beleggings terugbetaal kan word. Indien hulle nie aanmeld nie, sal die kontant aan die staat verbeur verklaar word.
Speur.sers. Ayanda Ntobongwana kan by 043-708 7178 of 043-708 7174 gebel word. WhatsApp-boodskappe kan na 072 393 9353 gestuur word met die slagoffer se besonderhede en bewyse van inbetaling.
“People should be wary of investment schemes promising hefty returns and requesting deposits into multiple bank accounts. These are red flags, signalling potential scams, prompting caution and vigilance among investors,” sê kol. Naidu.
Volg Nuusflits se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





