NOORD-KAAP. – Die polisiediens in Kimberley waarsku motoriste om waaksaam te wees nadat drie voertuie, na raming meer as R4 miljoen werd, binne enkele dae in die stad gesteel is.
Volgens polisiewoordvoerder, AO Molefi Shemane, is ’n Toyota Land Cruiser Woensdag op ’n winkelsentrum se parkeerterrein gesteel. Vrydag is ’n Ford Ranger Wildtrak en ’n Ford Raptor ook op die p arkeerterrein van’n winkelsentrum. Die polisie ondersoek die voorvalle en volg leidrade op om diegene wat hiervoor verantwoordelik is, te identifiseer en in hegtenis te neem. Hulle het inligting ontvang dat ’n man en vrou winkelsentrum-parkeerterreine besoek en moontlik seinblokkeerders gebruik om met voertuie se sluitstelsels in te meng. Dié inligting vorm deel van die voortgesette ondersoek.
Motoriste word gewaarsku om nie bloot op die voertuig se flikkerligte of die geluid van die sentrale sluitstelsel staat te maak nie. Hulle moet fisies seker maak dat al die deure wel gesluit is voordat hulle van hul voertuie af wegstap. Motoriste word verder aangeraai om hul voertuie in goed beligte en waar moontlik beveiligde gebiede te parkeer. Waardevolle items soos skootrekenaars, handsakke en elektroniese toestelle moenie sigbaar in voertuie gelaat word nie.
Die polisie doen ’n beroep op die publiek om verdagte persone of aktiwiteite onmiddellik aan veiligheidspersoneel of by die polisie aan te meld en om nie vermeende misdadigers self te konfronteer nie.
Enigiemand met relevante inligting kan speur.AO Anthony Rheeder van die Kimberley-voertuigmisdaadondersoekeenheid by 083 538 3520 bel.