WES-KAAP. – Sers. Mohlomla Tusani (46), verbonde aan Nyanga- sigbare polisiëring, was van diens toe hy Sondag in Lingelethu-Wes, in Khayelitsha, doodgeskiet is.
Volgens inligting het die sersant sy vrou by die kerk afgelaai en by ’n familiewoning in Town Two vertoef. Twee gewapende mans het glo die huis kort voor 15:00 binnegegaan en verskeie skote op hom geskiet, voordat hulle met ’n voertuig van die toneel gevlug het. Niks is uit die huis of van die slagoffer geneem nie, wat moontlik op ’n geteikende aanval dui.
Volgens Ian Cameron, die DA se polisiewoordvoerder en voorsitter van die portefeuljekomitee vir die polisie, is vyf patrone en een projektiel op die toneel gevind. Twee getuies het reeds verklarings afgelê. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
’n Moorddossier is by Lingelethu-polisiekantoor oopgemaak, terwyl speurders van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke die saak ondersoek. Die polisiebestuur het medelye met sy afsterwe uitgespreek.





