KWAZULU-NATAL. – Sers. Marcel Dorasamy, wat by die Berea-speurders gestasioneer is, is Dinsdag tydens ‘n beplande lokvaloperasie in Phoenix deur Opod in hegtenis geneem. Dorasamy het Woensdag in die Verulam-landdroshof verskyn en is op borg vrygelaat.
Luidens ‘n verklaring van Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, word Dorasamy van korrupsie aangekla nadat hy glo R4 000 van ’n vrou geëis het in ruil daarvoor dat haar seun nie in hegtenis geneem word nie. Hy het verder glo ook ‘n bykomende R5 000 vir die sluiting van die saakdossier geëis. Die klaagster het Dorasamy meegedeel dat sy slegs R2 500 kon bekostig en die balans die volgende maand sou betaal. Sy het die voorval by Opod aangemeld, waarna die direktoraat van openbare vervolgings goedkeuring vir ’n geheime operasie gegee het.
Dorasamy is by die ooreengekome plek in Phoenix in hegtenis geneem toe hy opgedaag het om die R2 500 te ontvang. Die saak is tot 11 Februarie 2026 uitgestel. Die ondersoek duur voort.





