LIMPOPO. – Konst. Tebatso Sinkie Leso (30), sers. Risimati Vongani Mbhenyani (42) en sers. Madimetja Phillimon Mokebe (52) van Mahwelering-polisiestasie het Dinsdag op aanklagte van ontvoering en afpersing in die Mokopane-landdroshof verskyn.
Die drie bly in aanhouding terwyl die saak tot Vrydag uitgestel is.
Kol. Malesela Ledwaba sê die drie verdagtes is Sondag by hulle onderskeie huise in hegtenis geneem. Nog twee polisiebeamptes het hulleself Dinsdag oorgegee.
Na bewering is ‘n klaer (21) met vyf Ethiopiese burgers in sy BMW Donderdag by ‘n vulstasie in Mokopane deur ‘n grys Hyundai voorgekeer. Hulle was onderweg om hulle asiel in Gauteng te hernu. Die 21-jarige het probeer ontsnap, maar is deur ‘n Mahwelereng Isuzu-polisiebakkie en ‘n VW Golf GTI met ‘n vrou en twee mans in uniform agtervolg. Die Ethiopiërs is glo in ‘n polisiebakkie gesit en die klaer is beveel om hulle nie te volg nie. In Mokopane is die buitelandse burgers glo aan ‘n onbekende man oorhandig. Die klaer kon ten spyte van navraag by Mokopane en Mahwelereng-polisiestasies nie die buitelandse burgers opspoor nie. ‘n Saak is oopgemaak wat deur die Limpopo-eenheid vir teen-korrupsie en georganiseerde misdaadondersoeke ondersoek is. Daarna is die drie polisiebeamptes in hegtenis geneem. ‘n Onbekende bedrag geld is in een van die polisiebeamptes se wonings ontdek en gekonfiskeer.
Nog ‘n vrouekonstabel en manlike sersant het hulleself Dinsdag aan die polisie oorhandig. Hulle sal na verwagting vandag in die Mokopane-landdroshof verskyn.
Die polisie se ondersoek duur voort.
Ledwaba sê die saak is vir verdere ondersoek en regsverteenwoordiging uitgestel.





