Polisielede wat met volle salaris geskors is en tuis sit, kos die belastingbetaler ongeveer R3l.87 m. aan salarisse. Van die 40 polisielede wat vir die afhandeling van ondersoeke wag en volle voordele ontvang, is sommige reeds twee jaar tuis.
Senzo Mchunu, die minister van polisie, het die bedrag bekend gemaak na ‘n parlementêre vraag deur Ian Cameron, voorsitter van die portefeuljekomitee oor die polisie en parlementslid.
“Hierdie onthulling is ‘n aanklag van hoe openbare fondse weens ondoeltreffendheid en ‘n gebrek aan dringendheid in die oplossing van dissiplinêre sake verkwis word. Hierdie geld, wat bewillig kon word om polisiehulpbronne, opleiding of operasies om misdaad te bekamp te verbeter, word eerder aan individue betaal wat nie tot die diens bydra nie,” het Cameronn gesê.
Diegene wat tuis sit, is luitenant-generaals wat van erge wangedrag beskuldig word, ‘n luitenant-kolonel wat glo by diefstal betrokke is en drie kapteins wat van seksuele aanranding en ander wangedrag aangekla is.
Boonop is daar onder-offisiere wat ook tuis sit – vier adjudant-offisiere wat van onder meer moord, bedrog, korrupsie en aanranding aangekla is. 17 sersante wat van korrupsie, poging tot moord en afpersing beskuldig word en 11 konstabels wat deur aanklagte van moord, ontvoering en motordiefstal in die gesig gestaar word.
Van die polisie se burgerlike personeel is twee van korrupsie beskuldig.
Cameron sê die geld kon eerder vir die aanstelling en opleiding van nuwe polisie-rekrute, nodige toerusting aan polisiebeamptes aangewend word.
Die minister van polisie is gevra om op te tree en om dissiplinêre ondersoeke vinnig en regverdig af te handel.