LIMPOPO. – Twee polisiebeamptes en ‘n algemene skoonmaker van Modimolle-polisiekantoor (voorheen Nylstroom) is ná ‘n gesamentlike ondersoek deur die teen-korrupsie-eenheid en plaaslike kriminele rekordsentrum in hegtenis geneem.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê Sondag in ‘n verklaring die inhegtenisnemings volg ná ’n voorval op 14 Julie omstreeks 04:20 op die R101, sowat 10 kilometer buite Modimolle in die rigting van Polokwane. Die bestuurder van ’n afleweringsvragmotor wat verskeie palette waspoeier vervoer het, het glo beheer verloor en die voertuig het van die pad geloop, wat van die vrag langs die pad laat beland het. Terwyl die bestuurder probeer het om die toneel te beveilig, het verskeie voertuie gestop en mense het begin om die waspoeier te steel.
‘n Gemerkte polisievoertuig het kort daarna met twee polisielede opgedaag. Volgens berigte het die klaer die beamptes gesmeek om te help om die plundering te stop, maar hulle het glo eerder aan die plundering meegedoen en ’n groot hoeveelheid waspoeier in die polisievoertuig gelaai voordat hulle weg is. Mense het voortgegaan om die vrag buit te maak.
Die bestuurder kon belangrike inligting oor die voorval en die betrokkenes bekom. Hy het die voorval onmiddellik aangemeld, waarna die ondersoek gevolg het. Op 18 Julie het ‘n soekoperasie tot die herwinning van sommige van die gesteelde goedere by die woning van een van die polisielede gelei. Die ondersoek het ook die polisie se algemene skoonmaker aan die misdaad gekoppel.
Drie verdagtes sal vandag (Maandag) in die Modimolle-landdroshof voorkom. Die ondersoek duur voort en verdere inhegtenisnemings word verwag.





