NOORD-KAAP. – Twee polisielede van Lime Acres word geloof vir hul vinnige en empatiese optrede nadat hulle Dinsdag ’n noodsituasie by ’n woonhuis beredder het waar ’n vrou sonder enige mediese bystand geboorte gegee het.
Genl.maj. Monica Sebili, distrikskommissaris van die ZF Mgcawu-distrik, het sersante Sehano Khalaki en Thabo Kgomojong geprys vir hul menslikheid en professionele hantering van die krisissituasie.
Volgens polisiewoordvoerder, sers. Omphile Masegela, het die beamptes op ’n klagte gereageer nadat twee vroue by die plaaslike polisiekantoor aangemeld het dat hulle ‘n vrou histeries hoor skree uit ‘n huis in die omgewing. Die aard van die nood was aanvanklik onbekend. Met die polisiebeamptes se aankoms by die huis kon hulle die vrou hoor skree en toe hulle die deur oopmaak, het hulle haar op ‘n bank aangetref, waar sy besig was om geboorte te gee. Die baba het gehuil en die ma, asook die baba, was swak en koud. Sers. Khalaki het die vrou bygestaan, terwyl sers. Kgomojong hulp verkry het.
Masegela sê die Petra Finsch-mynambulans het vir hulp opgedaag, waarna die ma en kind vir verdere mediese bystand na ‘n hospitaal vervoer is.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





