GAUTENG. – Agt polisiebeamptes wat aan adjunkpresident Paul Mashatile se presidensiële beskermingseenheid behoort, het Donderdag weer in verband met die sogenaamde #BlueLightMafia-saak, in die Randburg-landdroshof verskyn. ‘n Lid van die publiek is op 10 Julie 2023 op die N1 in Johannesburg aangerand. Die saak is vir verdere verhoor tot 2026 uitgestel.
Slegs een aanklag – poging om die regsproses te verydel – is deur die hof van die hand gewys. Die res van die aanklagte, waaronder aanranding met die doel om ernstig te beseer, roekelose en nalatige bestuur, kwaadwillige saakbeskadiging en die rig van ’n vuurwapen, sal voortgaan.
Volgens Juanita du Preez, Action Society se woordvoerder, is die organisasie tevrede met die uitspraak en glo dit bring die saak ’n stap nader aan aanspreeklikheid. Sy sê die hofuitspraak kontrasteer duidelik met die interne dissiplinêre proses binne die polisie wat vroeër die hoofbewyse verwerp het.
Die polisiebeamptes is ná hulle aanvanklike skorsing op administratiewe diens geplaas en is steeds in diens van die SAPD.





