OOS-KAAP. – Adze (7), ‘n Belgiese herdershond in diens van die polisie, het Sondag ná ’n rooftog by ’n spazawinkel in Kenton-on-Sea ’n verdagte opgespoor wat in die bosse weggekruip het.
AO Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê Thamsanqa David (33), Alizwa Tsitsi (19) en Anele Tshukulana het Dinsdag vlugtig op aanklagte van poging tot moord en sakeroof in die Alexandria-landdroshof voorgekom. Volgens die polisie het die drie mans glo omstreeks 09:30 die oggend ’n spazawinkel in Marseille binnegestorm en die eienaar geskiet en gewond. Daar word beweer dat kontant en ander items gesteel is voordat hulle van die toneel gevlug het.
Polisiebeamptes en ’n privaatveiligheidsmaatskappy het hulle na die toneel gehaas en twee verdagtes naby die plek van die voorval in hegtenis geneem. Die derde verdagte het glo by bosse ingevlug. Adze, wat van diens af was, is na die toneel gebring om te help. Hy het die reuk se spoor gevolg en die verdagte opgespoor waar hy in digte struike weggekruip het. ’n Rugsak met sigarette en ’n betaalpuntmasjien is gekonfiskeer.
Die verdagtes is steeds in aanhouding en die saak is vir ‘n borgtogaansoek na die Kenton-on-Sea-landdroshof oorgeplaas.


Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





