Brekende Nuus
Diere

Polisiedienshond Sky uitgesit ná ernstige beserings

Foto's: Ian Cameron

Video in berig.

Sky, die polisiehond wat by Roodeplaat-opleidingsentrum beseer is, is uitgesit nadat haar toestand weens die beserings dramaties versleg het. Ian Cameron, DA-LP en voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, sê die tragedie kon volgens die polisie se eie veeartsenykundige rekords voorsien gewees het.

Cameron sê Sky se toestand het oornag sodanig versleg dat die besluit geneem is om haar verdere lyding te spaar. Volgens hom het sy ’n oop fraktuur aan haar linkervoorbeen gehad, terwyl haar regtervoorbeen ook gebreek was en weefsel begin afsterf het. Haar spiere het volgens Cameron uitgebreide skade opgedoen en begin afbreek, terwyl daar vermoed is dat haar organe begin ingee het. Haar toestand het chirurgie en narkose uiters riskant gemaak. ’n Kliniekgeleide nadoodse ondersoek sal volgens Cameron by Onderstepoort gedoen word en ’n formele verslag moet deel vorm van alle ondersoeke na Sky se dood.

Cameron verwelkom die waarnemende nasionale kommissaris, lt.genl. Puleng Dimpane, se besluit om ’n senior offisier aan te stel om die voorval te ondersoek. Hy sê egter die polisie se eie veeartsenykundige sertifikaat, wat op 28 Augustus onderteken is, toon dat Sky reeds ernstige probleme gehad het. Die sertifikaat meld dat sy sedert Maart by Roodeplaat was, nadat sy beserings aan haar gesig en bene opgedoen het en tande uit haar kakebeen geskeur is. Volgens die dokument het Sky se pogings om uit haar hok te ontsnap, voortgeduur en is dit as “aanhoudend en kompulsief” beskryf. Sy is met skeidingsangs en ernstige hokstres gediagnoseer en het onder meer Fluoxetine, Gabapentin en Trazodone ontvang. Die sertifikaat het volgens Cameron ook aangedui dat Sky se vooruitsig binne die polisie-omgewing swak was en dat sy nie daar kon aanbly, sonder om haar welsyn in gevaar te stel nie.

Cameron beweer dat polisiebeamptes reeds in Augustus versoek het dat Sky tydelik na ’n geskikte tuiste geneem word, terwyl die nodige dokumentasie vir haar permanente plasing afgehandel word. Volgens hom is dié versoek nie opgevolg nie. Hy sê die poliksie moet nou verduidelik waarom die plasingsproses na bewering ongeveer 160 dae geduur het, ondanks die feit dat daar reeds skriftelike waarskuwings oor Sky se toestand was. Volgens beskikbare inligting het Sky ongeveer 18 uur per dag in ’n klein binnenshuise hok in ’n vertrek sonder natuurlike lig deurgebring. Sy is glo van Sondagmiddag tot Maandagoggend sonder toesig gelaat, waarna sy met ernstige beserings gevind is.

Cameron het ‘n strafsaak geopen en die aangeleentheid na die NDBV en die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad verwys. Hy dring daarop aan dat alle veeartsenykundige rekords, nadoodse bevindings, biologiese monsters, kringtelevisiemateriaal, hokregisters, diensroosters, inspeksierekords en interne kommunikasie bewaar word. Hy sê die ondersoek moet vasstel wie van die risiko’s bewus was, wie verantwoordelik was vir die plasingsproses en toesig ná ure, wanneer Sky laas ondersoek is en waarom bestaande waarskuwings nie tot optrede gelei het nie.

“Sky het die polisie gedien en was volledig afhanklik van die SAPD vir haar beskerming. Sy kon nie namens haarself praat of ontsnap aan die besluite wat oor haar lewe geneem is nie,” sê Cameron.