GAUTENG. – Kapt. Wynand du Toit van Springs is Sondagoggend vroeg in Geduld gewond, waarna hy later in die Parkland-hospitaal gesterf het. Du Toit het hom na ‘n sakeroof in aanvang gehaas waar ‘n skietery met verdagtes plaasgevind het. Sers. Themba Tshabalala bevestig twee verdagtes is in hegtenis geneem.
Volgens kol. Mavela Masondo, provinsiale woordvoerder, is ‘n opsporingseenheid deur lt.genl. Tommy Mthombeni geaktiveer om die verdagtes op te spoor. Positiewe inligting oor moontlike verdagtes is in Mpumalanga opgevolg en die opsporingspan werk onverpoosd om nog verdagtes op te spoor.
Du Toit was nie aan diens nie, maar die gemeenskap het hom omstreeks 07:30 van die sakeroof ingelig, waarna hy homself dadelik aan diens geplaas het. Hy is in ‘n skietery met sowat vier verdagtes gewond. Hy het daarna in ‘n hospitaal aan sy beserings gesterf.
“Die dapper en toegewyde polisiekaptein is dood terwyl hy op die oproep van diens reageer het, alhoewel hy toe van diens af was. Ons sal seker maak dat diegene wat vir sy dood verantwoordelik is, gejag word en betaal vir die dood van een van ons eie. Ek wil graag my meegevoel betuig met die familie van ons gevalle held,” het lt.genl. Mthombeni gesê.
Medelye vir die naasbestaandes van die polisiebeampte stroom op verskeie sosialemediagroepe in.
Sheldon du Toit het ‘n foto van hom, sy oorlede pa en sy broer op die wynand du toit in loving memory-Facebook-blad gedeel en sê: “Ons altwee gaan pappa baie mis. Dankie vir als wat pappa vir ons gedoen het, baie lief vir pappa en gaan pappa baie mis.”
‘n Massa-gedenkrit en gebeddiens vind vanaand om 18:30 vir 19:00 by Springs Mall vanuit die agterste parkeerarea plaas.
Brig. RM Buthelezi, die stasiebevelvoerder van Springs, het met ‘n swaar hart Du Toit se afsterwe gedeel en medelye teenoor familie en kollegas uitgespreek.






