KWAZULU-NATAL. – ‘n Polisiekaptein het vanoggend op die N2-hoofweg naelskraap aan ‘n koeëlreën ontsnap toe beweerde transitorowers op hom losgebrand het.
Kol. Robert Netshiunda sê die kaptein, geklee in beskermende toerusting en in ‘n ongemerkte voertuig, was onderweg na ‘n operasie in Inanda. Hy het in ‘n noordelike rigting agter die kontantwa gery. Net voor die KwaMashu-hoofweg-afrit het ‘n onbekende getal beweerde transitorowers in verskeie voertuie op die bakkie geskiet. Die kaptein het taktiese kennis toegepas en teruggeskiet, waarna hy uit die voertuig kon klim om dekking te neem. Die offisier kon daarin slaag om ook ander niksvermoedende motoriste te keer voordat hulle slagoffers van die beweerde transitorowers kon word.
Die verdagtes het die kontantwa oopgeskiet en met ‘n onbekende bedrag geld gevlug. Die veiligheidswagte het nie beserings opgedoen nie, maar is glo van drie vuurwapens, waarvan een ‘n geweer is, beroof.
Enigiemand met inligting van die verdagtes word versoek om na vore te kom.



Foto’s: SAPD