KWAZULU-NATAL. – Drie polisielede is tydens drie verskeie skietinsidente beseer, waartydens drie verdagtes noodlottig gewond is.
Kol. Robert Netshiunda sê twee polisielede ontvang mediese behandeling by ‘n hospitaal nadat hulle vanoggend vroeg met verdagtes in ‘n skietery in die Okhalweni-area in KwaMaphumula betrokke was.
“Die polisie was op soek na ‘n verdagte van ernstige geweldsmisdade wat moord en kontant-in-transito-rooftogte insluit, toe hulle inligting ontvang het oor waar hy hom bevind. Toe die polisie op die geïdentifiseerde woning toeslaan, het die verdagte geweier om oop te maak. Minimum geweld is gebruik om toegang tot die huis te verkry, waarna die verdagte op die polisie losgebrand en twee polisiebeamptes beseer het.”
Ander polisielede op die toneel het teruggeskiet en die verdagte noodlottig gewond. ‘n Vuurwapen is in sy besit gevind.
“Die beseerde polisiebeamptes, ‘n kaptein en ‘n adjudant-offisier, is hospitaal toe geneem waar hulle aansterk.”
Tydens nog ‘n insident vanoggend in Manselstraat in Cato Crest het polisielede gereageer op inligting van ‘n verdagte wat vir moord en poging tot moord gesoek word. Die verdagte het na bewering op 3 September ‘n slapende paar in ‘n woonstel gaan skiet. Die man is dood verklaar, terwyl die vrou na ‘n hospitaal gehaas is. ‘n Driejarige kind het ongeskonde van die insident afgekom.
Met die polisie se aankoms op die misdaadtoneel het ‘n skietery ontaard en die verdagte is noodlottig getref. ‘n Vuurwapen is in sy besit gevind. ‘n Polisielid is gering beseer en op die toneel behandel, nadat sy koeëlvaste baadjie deur ‘n koeël deurdring is.
Netshiunda sê polisielede is Dinsdagaand na ‘n toneel waar ‘n minibustaxi in Mariannhill gekaap is.
“Die bestuurder is in Edwin Swales-rylaan afgegooi en die polisie het die gekaapte minibustaxi in Cato Manorweg ingehaal.”
Met die polisie wat die minibustaxi inhaal, het ‘n passasier op die polisie geskiet. Die polisie het teruggeskiet. Die bestuurder het te voet gevlug terwyl die passasier aanhou skiet het. Hy is noodlottig gewond.
“Die verdagte is in besit van ‘n vuurwapen gevind en ‘n daaropvolgende soektog in die voertuig het tot die herwinning van nog ‘n vuurwapen gelei.”
Netshiunda sê ’n soektog duur voort na die verdagte, wat arrestasie ontduik het.





