Polisielede wat glo in Vrystaat roof in Gauteng vasgetrek

Lees ook :

Foto's: SAPD

Twee konstabels en ‘n sersant wat glo op 1 Julie ‘n slagoffer by ‘n vulstasie in Welkom in die Vrystaat beroof het, is Saterdag in Gauteng in hegtenis geneem.

Brig. Athlenda Mathe sê luidens ‘n persverklaring genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom.

“Genl. Masemola het ook verseker dat interne departementele dissiplinêre verrigtinge bespoedig word.”

Foto’s van die gesoekte mans en ‘n vrou, geklee in ‘n koeëlvastebaadjie en polisiemasker, is op sosiale media versprei. Die voertuig met flitsende blou ligte wat deur die verdagte polisielede gebruik is, kan ook gesien word.

“Sedert die voorval op 1 Julie 2024 is maksimum hulpbronne gemobiliseer en ‘n toegewyde span speurders het aan die saak gewerk om die verdagtes op te spoor.”

Mathe sê die spoor van die verdagtes is deur Welkom-GKS tot in Gauteng gevolg. Voorlopige ondersoek dui aan die drie polisielede het glo op die betrokke dag ‘n man van die pad getrek en beveel om uit sy voertuig te klim. Hy het geweier en na die vulstasie gery, waartydens hulle hom glo gevolg het. By die vulstasie is sy selfoon glo gegryp en die polisielede het weggejaag.

“Die SAPD het ‘n teenkorrupsie-eenheid wat uitsluitlik besig is met die identifisering en verwydering van korrupte wetstoepassers binne sy geledere en verder. Gemeenskappe word dus versoek om voort te gaan om verdagte aktiwiteite by hul naaste polisiestasie en die Stop Misdaad-nommer by 0860010111 aan te meld.”

Kapt. Stephen Thakeng het gesê Welkom-polisiestasie is op soek na verdagtes wat ‘n mynwerker (44) beroof het terwyl hulle in stukke van polisie-uniforms geklee was.

Die mynwerker het in Badenhorststraat gery toe hy deur die “polisiebeamptes” gestop is. Hy het nie gemaklik gevoel nie en het nie uit sy voertuig geklim nie, maar vir die “polisiebeamptes” gesê om polisiestasie toe te gaan. Hy het by die Engen-vulstasie in Jan Cillierspark stilgehou. Toe hy uit sy voertuig klim, is sy selfoon gegryp. Die mynwerker is terug in sy voertuig en het polisiestasie toe gejaag om die voorval aan te meld. ‘n Saak van roof en die voordoen as ‘n polisiebeampte, is geopen.

Die verdagtes is deur CCTV-kameras afgeneem. Twee mans en ‘n vrou was in ‘n SAPD-masker en koeëlvaste baadjie geklee.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief