Brekende Nuus
Nuus

Polisiesersant en sy vrou met skietwonde in hul huis gevind

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – ’n Polisiesersant (46) en sy vrou (40) is vroeg Saterdagoggend 14 November met skietwonde aan hul koppe in die kombuis van hul huis in Petunialaan, Toekomsrus, Oudtshoorn, aangetref. Mediese personeel het albei op die toneel dood verklaar. Die polisie het ’n moordsaak en ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê beamptes is omstreeks 01:30 ná ’n skietvoorval na die huis ontbied. Die polisie het beslag gelê op ’n vuurwapen wat op die toneel gevind is en ondersoek die omstandighede van die skietvoorval.

Die sersant was by die Oudtshoorn-polisiekantoor gestasioneer. Polisiebestuur het sy medelye met die familie betuig en die polisie se afdeling vir werknemersgesondheid en -welstand sal professionele ondersteuning aan die familie en kollegas bied.