NOORDWES. – Sers. Yvonne Suzan Sikwani (54) en konst. Bontle Mmudi (41) van Rustenburg-polisiestasie se speurtak het gister vir beweerde korrupsie en afpersing in die Rustenburg-landdroshof verskyn.
Kol. Adéle Myburgh sê die twee polisielede is op R1 000 elk borg vrygelaat. Die saak is tot 21 Mei uitgestel.
Myburgh sê die twee polisielede is Woensdagmiddag tydens ‘n geheime operasie, gelei deur die provinsiale teen-korrupsie-eenheid, vasgetrek. Na bewering is inligting ontvang dat die lede terwyl hulle in Mei 2022 besig was om ‘n saak te ondersoek, glo by verskillende geleenthede geld geeïs het sodat die klaer se saak vinniger ondersoek kon word.
Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris in die provinsie, sê korrupte aksies deur polisielede sal nie geduld word nie.





