VRYSTAAT. – Premier Lesotha-Mathae is ontsteld oor die dood van twee kinders, een en drie jaar oud, Maandag in Caleb Motshabi. Die kinders se ma (30) verskyn vandag op aanklagte van kinderverwaarlosing en strafbare manslag in die Bloemfontein-landdroshof.
Volgens ‘n verklaring van die premier het die vrou haar drie kinders glo om ongeveer 18:00 alleen in hul huis agtergelaat. Met haar terugkeer omstreeks 22:00 het sy gevind dat die huis tot op die grond afgebrand het. Twee van die kinders is in die brand dood, terwyl die oudste van agt jaar die inferno oorleef het.
Premier Letsoha-Mathae het gesê die dood van die kinders sou moontlik verhoed kon word indien die moeder hulle in die sorg van familielede of vriende gelos het. “Die polisie vertel ons dat die moeder die kinders alleen gelos het en ure weg was. Ons het natuurlik nie al die feite op die oomblik nie, maar ek kan nie anders as om te wonder wat so belangrik kon wees om ’n moeder so lank van haar babas weg te hou nie. Nou het ons twee babas wat op ’n gruwelike manier gesterf het omdat hulle alleen en kwesbaar gelaat is,” het die premier, Letsoha-Mathae, gesê.
Sy het verder gesê daar moet ‘n streng straf opgelê word indien die hof die moeder skuldig bevind. Die geval is soortgelyk aan ’n voorval in Mei in Reitz, waar twee susters, Amohelang en Bokamoso Mngomezulu van 18 jaar en 7 maande oud, ook in ’n brand gesterf het.
“Ons moet beter doen as ouers, veral as moeders. Ons kan nie ons kinders op hierdie manier verloor nie,” het Letsoha-Mathae bygevoeg.