Premierskantoor sê oor pasiënt wat oor vloer gesleep is

Lees ook :

Foto: Skermgreep van beeldmateriaal Pablo Gustavo Facebook-blad

Waarskuwing! Beeldmateriaal in berig kan sensitiewe kykers ontstel.

WES-KAAP. – Proaktiewe maatreëls is ingestel nadat ‘n video van ‘n pasiënt by Karl Bremer-hospitaal wat deur ‘n veiligheidsbeampte oor ‘n vloer gesleep is op sosiale media versprei is. Twee persone is geskors.

Regan Thaw, woordvoerder van premier Alan Winde, sê aan Nuusflits die hospitaal het berou oor die insident en is toegewyd om te verseker alle individue word met waardigheid, respek en sorg behandel. Die insident is behoorlik ondersoek, waartydens mediese rekords nagegaan is, personeel ondervra is en die beeldmateriaal is geanaliseer. Die gekontrakteerde veiligheidsdiensverskaffer het ook ‘n ondersoek geloods en het proaktiewe dissiplinêre stappe geneem.

Thaw sê voorts, luidens die ondersoek is die pasiënt medies geassesseer en ontslaan, maar hy het na die ongevalle-afdeling teruggekeer. ‘n Moeilike situasie het ontstaan en het geëskaleer, wat op video vasgelê is. Die behandeling van die individu deur die veiligheidsbeampte is egter as onaanvaarbaar bestempel.

“Hierdie optrede weerspieël nie die waardes of standaarde van Karl Bremer-hospitaal nie en ons neem onmiddellike stappe om dit aan te spreek.”

Thaw verduidelik die stappe sal opknapping, addisionele opleiding, monitering en evaluasie, hulpbronbewustheid en beleidopdaterings insluit.

Intussen is twee veiligheidspersoneel geskors terwyl die uitkoms van dissiplinêre verhore afgewag word.

“Ons vra diep om verskoning vir die nood wat hierdie voorval veroorsaak het en waardeer die begrip van die gemeenskap terwyl ons hul bekommernisse aanspreek.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief