GAUTENG. – Barbara Creecy, die minister van vervoer, het die padverkeersongelukkefonds (POF) se raad vir direkteure ontbind weens volgehoue bestuurs- en operasionele probleme wat die fonds se funksionering belemmer het.
Collen Msibi, departementele woordvoerder, sê in ‘n verklaring die redes vir ontbinding is onder meer duur litigasie oor rekeningstandaarde, swak hantering van die uitvoerende hoof se skorsing, gereelde wanbetalingsuitsprake, verdeeldheid binne die raad en die versuim om sleutelposte te vul.
Creecy het op 5 Junie 2025 ‘n kennisgewing aan die raadslede uitgereik en ná oorweging van hul voorstelle die raad ontbind. ’n Tussentydse rekenpligtige gesag sal deur die nasionale tesourie aangewys word terwyl ’n nuwe raad gewerf word. ’n Onafhanklike adviespaneel sal die POF se prosesse hersien en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) is versoek om sy ondersoek uit te brei na gebeure van die afgelope drie maande. Creecy het bevestig dat haar departement verbind is tot die herstel van stabiliteit en die finalisering van nuwe wetgewing vir ‘n skuldvrye voordeelstelsel.
Mkhuleko Hlengwa, die hoof- uitvoerende beampte, is gedurende Mei op spesiale verlof geplaas. Lees die volledige verklarings hier onder:



Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





