GAUTENG. – Paseka Motshoeneng (56) aka Mboro (“profeet”) het Woensdag saam met sy seun en sy lyfwag, Vincent Baloyi, en Revival Motshoeneng in die hof verskyn.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê die verdagtes is na aanleiding van ‘n voorval wat Maandag by Laerskool Matsediso plaasgevind het, in hegtenis geneem en het in die hof verskyn. In ‘n video van die insident wat wyd en syd versprei is, kon die verdagtes met gevaarlike wapens gesien word. Twee leerders is met geweld van die skoolperseel verwyder.
Mjonondwane sê die verdagtes het op aanklagte van ontvoering, besit van gevaarlike wapens en of ongelisensieerde vuurwapens, besit van verbode vuurwapens, aanranding deur middel van dreigemente, rig van vuurwapens, die afvuur van ‘n vuurwapen en opsetlike saakbeskadiging in die hof verskyn.
Die verdagtes bly in aanhouding ter voorbereiding van ‘n borgverhoor wat die profiliëring van die verdagtes insluit. Die hofsaak kom weer op 16 Augustus voor.
Mjonondwane sê die NVG het nog drie dossiere van dieselfde insident ontvang. In die een dossier is sake deur die Motshoenengs teen die kinders se oorlede ma se familie aanhangig gemaak. Mboro het onder andere ‘n aanklag van aanranding teen die oom en ouma van die kinders gemaak. Die “profeet” beweer hy is by die skool aangerand toe hy daar was om sy seun by te staan, wat verbied is om die skool met sy kinders te verlaat.
In die tweede dossier is Mboro se seun die klaer, wat beweer hy is deur sy kinders se ouma aangerand toe hy sy kinders by die skool wou gaan haal.
Die derde dossier is deur die stasiebevelvoerder van Katlehong Noord-polisiestasie teen die oom van die kinders gemaak wat glo die bevelvoerder aangerand het toe hy met die klagtes tussen die betrokke partye wou help.
Die dossier waarin Mboro se seun, pa van die kinders, die klaer is, is weens verdere ondersoek nie op die rol geplaas nie.
Beide die kinders se ouma en oom is op R1 000 borg vrygelaat en sal weer op 10 September in die hof verskyn.
Mboro se kerk is intussen tot op die grond afgebrand.