VRYSTAAT. – Inwoners van Mangaung is deur die Provjoints-struktuur (provinsiale gesamentlike operasionele intelligensie) tot kalmte gemaan nadat boodskappe versprei is om Manganung Woensdag tot stilstand te dwing.
Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder vir Provjoints in die Vrystaat, sê in ‘n verklaring hulle is bewus van die boodskappe. “Ons wil die gemeenskap verseker daar is nie paniek nodig nie,” het Makhele gesê.
Hy het verduidelik dat die polisie en Intelligensiedienste die situasie monitor en dat die boodskappe ondersoek word. “Die nodige stappe sal geneem word om enige relevante inligting te operasionaliseer indien nodig,” het hy bygevoeg.
“Ons doen ‘n beroep op alle inwoners om kalm te bly en op te hou om hierdie boodskappe verder te versprei, maar eerder sonder vrees vir ontwrigting met hul daaglikse aktiwiteite voort te gaan. Die polisie sal indien onwettige optrede plaasvind, nie huiwer om vinnig en beslissend te reageer om alle inwoners te beskerm nie.”
Hy het ook ‘n waarskuwing gerig aan diegene wat beplan om optogte of betogings te hou: “Enige optrede wat die wet oortree en die daaglikse lewens van burgers ontwrig, sal nie geduld word nie.”
Die Provjoints-struktuur het sy verbintenis tot die handhawing van vrede en stabiliteit in Mangaung herbevestig.
“Enige optrede waar die wet oortree en die daaglikse lewens van burgers ontwrig word, sal nie geduld word nie. Wetstoepassingsagentskappe sal nie ledig staan terwyl ander se regte onregmatig geskend word nie. Die Vrystaatse Provjoints-struktuur bly verbind tot die handhawing van vrede, stabiliteit en die oppergesag van die reg in ons gemeenskappe.”





